Sprokiestroue in blos, appelkoos, wit en pienk

’n Sprokiestroue is wat elke bruid graag wil hê en Bernice is geen uitsondering nie.

Sagte kleure, kleurvolle blomme en kreatiewe idees het hierdie droom waar gemaak.

Die liefde het tydens universiteitsdae vir Bernice en Christo Smit begin blom. Ons gesels ʾn bietjie met Bernice oor wat hul sprokiestroue so spesiaal gemaak het.

HOE HET JULLE ONTMOET?
“Tydens ons studentedae het ek en Christo oorkant mekaar in dieselfde woonstelblok gebly. ’n Gemeenskaplike vriend het ons aan mekaar voorgestel, wat daarnatoe gelei het dat Christo elke aand tydens jool by my kom koffie drink het. Dit het my hartsnare geroer toe hy my van sy hond wat dood is vertel (seker omdat ek ’n groot diereliefhebber is).”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET JULLE NA MEKAAR AANGETREK?
Bernice: “Christo se lag is aansteeklik en ek was dadelik op my gemak by hom.”
Christo: “Bernice se eienskappe as Goddelike vrou het haar laat uitstaan. Ons is beste vriende.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Ons het tydens ons drie-jaar herdenking by my ouma in Oubaai gaan kuier, waar hy my die ja-woord op die strand gevra het. Ons het toe aan ons sprokiestroue begin beplan en was vir twee jaar verloof.”

VERTEL ONS MEER VAN JOU TROUEBEPLANNING?
“Ek wou ’n sprokiestroue hê en soos ’n prinses voel. Ons het kostes bespaar deur van elektroniese uitnodigings gebruik te maak en ons dankiegeskenkies was in die vorm van ’n lekkergoedtafel.”

HOEKOM HET JULLE DIÉ KLEURSKEMA VIR JULLE SPROKIESTROUE GEKIES?
“Ons het sagte kleure, blos, appelkoos, wit en ’n bietjie pienk gekies omdat dit sag en klassiek is.”

WATTER TIPE ATMOSFEER WOU JULLE VIR JUL SPROKIESTROUE SKEP?
“Dit was vir ons belangrik om ’n ontspanne atmosfeer te skep sodat ons gaste die troue saam met ons kon geniet.”

BESKRYF JULLE TROUDAG?
“Ek was baie opgewonde en Christo was meer emosioneel. Dit was ’n winterstroue, maar die weer was perfek tydens ons sprokiestroue. Dit was werklik die beste dag in ons lewens.”

HET IETS SPESIAALS GEBEUR?
Anders Orkes het tydens ons seremonie gesing, en ek het vir my man tydens die onthaal gesing. Dit was baie spesiaal.”

HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE WAT HUL EIE SPROKIESTROUE BEPLAN?
“Alles werk gewoonlik uit soos dit moet, so geniet net die dag. Dit gaan so gou verby.”

Om ’n sprokiestroue te beplan hoef nie stresvol en uitmergelend te wees nie, so volg Bernice se raad as jy die beste van jou eie sprokiestroue wil maak. Prinsesse sweet mos nie, of hoe?

DIENSVERSKAFFERS:
Venue, koördinering, spyseniering, drankies en dekor: Chez Charlene
Bloemis: Lavendulla Florists
Skryfbehoeftes: Self
Troukoek: Kelly Jaynes Cake Boutique
Fotograaf: Hannes Roodt
Videograaf: Motion Craft André Mostert
Musiek: Mega Music DJ’s
Vermaak: Anders Orkes
Trourok: Eurobride
Hare: Isabel en Hannes van Follicle Hair
Grimering: Janine McNulty
Bruidegom se pak: Woolworths

Related Projects